21/07/2013

'n Smeek Gebed Gerig Aan Jahweh Eloah

Psalms 17:1-15
[1]  Jahweh Eloah, hoor ‘n regverdige saak, let op my smeking; luister tog na my gebed met onbedrieglike lippe.
[2]  Laat my reg van U aangesig uitgaan; laat U oë regverdig sien.
[3]  U het my hart getoets, dit in die nag ondersoek, U het my gekeur, U vind niks nie; wat ek ook dink, my mond oortree nie.
[4]  Aangaande die handelinge van die mens, ék het deur die woord van U lippe die paaie van die geweldenaar vermy.
[5]  My gange het vasgehou aan U spore, my voetstappe het nie gewankel nie.
[6]  Ek roep U aan, want U verhoor my, o Jahweh! Neig U oor tot my, luister na my woord!
[7]  Maak U gunsbewyse wonderbaar, o Verlosser van die wat by U regterhand skuil vir teëstanders!
[8]  Bewaar my soos ‘n oogappel; verberg my in die skaduwee van U vleuels
[9]  teen die goddelose wat my geweld aandoen, my doodsvyande wat my omring.
[10]  Hulle het hul gevoel afgesluit; met hul mond spreek hulle hoogmoedig.
[11]  Nou het hulle ons in ons gang omsingel; hulle rig hul oë daarop om ons op die grond uit te strek.
[12]  Hy is soos ‘n leeu wat begerig is om te verskeur, en soos ‘n jong leeu wat in skuilplekke klaar lê.
[13]  Staan op, Jahweh, gaan hom tegemoet, werp hom neer; red my van die goddelose met U swaard;
[14]  met U hand van die manne, o Jahweh, van die manne wie se deel in die lewe uit die wêreld is en wie se buik U vul met U verborge skat; wie se seuns daarvan nog sat is, wat weer hul oorskot aan hulle kinders laat agterbly.
[15]  Maar ek sal U aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met U beeld as ek wakker word.